Skip to main content

Ons Geskiedenis

Ons Geskiedenis

Francois Rossouw – Die 4×4 ou

Francois Rossouw – ’n man van stofpaaie en diep spore – was nie net ’n motorhandelaar nie, maar ’n ware 4×4 pionier. Hy het robuuste 4×4’s verkoop, diens gedoen en weer lewe gegee waar ander sou tou opgooi. Maar die regte avontuur het begin wanneer hy sy kliente en vriende elke maand op ’n epiese 4×4 ekspedisie geneem het – plekke waar teerpad ophou en stories begin.

As stigterslid van die SA Jeepklub in 1975 het Francois sy naam diep in die 4×4 geskiedenis ingegraveer. Drie keer motorsport kampioen in die 4×4-uitdaagreeks, en wie kan ooit die legendariese pienk Lada vergeet wat oral aandag getrek het?

In 1994 het sy stem nog verder gereis as net bergpasse en grondpaaie. Elke Woensdagmiddag om half ses het hy luisteraars saamgeneem op avonture tydens “Stroom-af” op Afrikaans Stereo (later RSG), wat later na “Bon Voyage” op Saterdagoggende verskuif het – waar drome van oop paaie en nuwe horisonne gebore is.

Maar soos elke goeie roete, kom daar ’n tyd om stadiger te ry en die uitsig te geniet. Francois het besluit om bietjie af te skaal. Met die realiteit van gesondheidsrisiko’s wou hy nooit sy 4×4 familie in die steek laat of iemand se droomtoer in gevaar stel nie.

Met 4×4 Sport wat so na aan sy hart lê, het hy die leisels oorgegee aan nuwe hande – sodat die wiele kan bly rol en die avonture nooit ophou nie. Nou kan elke deelnemer met volle gemoedsrus die volgende roete aanpak, wetende alles is reg gereël en die avontuur wag net om beleef te word.

Ons verwelkom met groot opgewondenheid vir Arnold en Yolande Venter as die nuwe toerleiers van hierdie epiese 4×4 ervarings. Hulle is geen vreemdelinge vir die 4×4 wêreld nie – landswyd bekend en reeds deel van die 4×4 Sport familie. Met hul passie, ervaring en liefde vir die onbekende bring hulle ’n vars energie na elke toer.

En moenie worry nie – Carina hou steeds die kaart en kompas vas agter die skerms, en sorg dat elke avontuur glad verloop van begin tot einde.